As ʼn laaste uitweg is dit soms noodsaaklik om ʼn kind wat versorging en beskerming nodig het, van hulle primêre versorgers te verwyder om te voorkom dat verdere mishandeling plaasvind (United Nations, 2009:7).  

Mishandeling sluit in misbruik (emosionele, fisiese en seksuele), verwaarlosing, ouers se misbruik van alkohol of dwelms, ouers wat kinders agter laat of ouers wat gevangenisstraf uitdien (Bundy-Fazioli et al., 2009:88; McWey et al., 2006:200; Osborn et al., 2008:847).  

Die Help-Net Fonds bestuur sedert 2000 Privaatplekke van tydelike vesorging, wat ‘n veilige hawe is vir kinders wat sorg en beskerming benodig. 

ʼn Privaatplek van tydelike versorging kan omskryf word as: ʼn korttermyn-plasing, vir die beveiliging van ʼn kind wat sorg en beskerming benodig (Bosch, 2015; Van Emmenis, 2015; Van Schalkwyk, 2015), met die toestemming van die hof (Children’s Act 38 of 2005).  

Daar kan tot ses kinders in die sorg van ʼn privaat kinderversorger geplaas word (Bosch, 2015; Makhavhu, 2010:2-4; Meintjes, et al., 2007:25; Van Emmenis, 2015; Van Schalkwyk, 2015) totdat die hof besluit om ʼn meer permanente plasing te finaliseer (Makhavhu, 2010:5). 

Bosch (2015), Malan (2015) en Margo (2008:8) noem dat alhoewel privaatplekke van tydelike versorging ʼn korttermyn-plasing is, soos in die Children’s Act 38 of 2005 waarin ʼn periode van drie maande voorgestel word, hierdie tydperk nie altyd haalbaar is nie, omdat daar nie altyd genoeg fasiliteite of pleegsorghuise beskikbaar is vir die langtermyn-plasing van die kind nie.  

Volgens die norme en standaarde wat deur die Departement Maatskaplike Ontwikkeling gestel word, kan kinders in privaatplekke van tydelike versorging tot en met ses maande geakkommodeer word.  

Binne hierdie tydperk is die maatskaplike werker veronderstel om genoegsame tyd te hê om die statutêre ondersoek te finaliseer (Makhavhu, 2010:5).  

In realiteit word kinders egter so lank as twee jaar in privaatplekke van tydelike versorging gehuisves (Margo, 2008:8; Meintjes, 2013).  

Wanneer die betrokke maatskaplike werker die kinderhof saak afgehandel het word die kind vanaf die privaatplek van tydelike versorging, oorgeplaas na ‘n permanente plasing wat die volgende opsies insluit:  terugplasing by die biologiese ouer/s; pleegsorg of ‘n kinder- en jeugsorg fasiliteit.

Bibliografie

BOSCH, D.  2015.  Alternatiewe sorg in Suid-Afrika.  [Persoonlike onderhoud.]  Pretoria, 10 Julie.
BUNDY-FAZIOLI, K., WINOKUR, M. & DELONG-HAMILTON, T.  2009.  Placement outcomes for children removed for neglect.  Child Welfare League of America, 88(3):85-102.
MAKHAVHU, Z.V.  2010.  Admission policy for temporary safe care.  (Original document from Directorate Children Services, Department of Health and Social Development, North West Provincial Government, Republic of South Africa.)
MALAN, H.  2015.  Alternatiewe sorg in Suid-Afrika.  [e-pos.]  Potchefstroom, 31 Julie.
MARGO, M.E.  2008.  The experience of the adolescent in a place of safety.  Pretoria: University of Pretoria.  
McWEY, L.M., HENDERSON, T.L. & TICE, S.N.  2006.  Mental health issues and the foster care system: An examination of the impact of the adoption and safe families act.  Journal of marital and family therapy, 32(2):195-214.
MEINTJES, H., MOSES, S., BERRY, L. & MAMPANE, R.  2007.  Home truths: The phenomenon of residential care of children in a time of AIDS.  Cape Town: Children’s Institute, University of Cape Town & Centre for the Study of AIDS, University of Pretoria.
MEINTJES, J.  2013.  Funksionering van plekke van tydelike versorging in Suid-Afrika.  [Persoonlike onderhoud.]  Pretoria, 13 Augustus.
OSBORN, A.L., DELFABBRO, P. & BARBER, J.G.  2008.  The psychosocial functioning and family background of children experiencing significant placement instability in Australian out-of-home care.  Children and youth services review, 30(8):847-860.
UNITED NATIONS.  2009a.  Guidelines for the alternative care of children: A United Nations framework.  http://resourcecentre.savethechildren.se/content/library/documents/ guidelines- alternative-care-children-united-nations-framework.  Date of access: 16 Januarie 2013.
VAN EMMENIS, H.  2015.  Alternatiewe sorg in Suid-Afrika.  [Persoonlike onderhoud.]  Pretoria, 8 Julie.
VAN SCHALKWYK, M.  2015.  Alternatiewe sorg in Suid-Afrika.  [Persoonlike onderhoud.]  Pretoria, 3 Julie.
SUID-AFRIKA.  2005.  Children’s Act, Act 38 of 2005.  Pretoria: Government Printer.